Description
Tussen Doop en Nagmaal – Ds. Ferdinand Bijzet:
Jy is al vir ’n geruime tyd deel van verbondsonderrig in jou gemeente. Jou gelowige ouers het jou laat doop toe jy nog baie jonk was. Deur jou doop is jy as verbondskind in die kerk van Christus ingelyf. Gedurende verbondsonderrig word jy onder meer aan die hand van die Heidelbergse Kategismus voorberei om as dooplidmaat voor God en die gemeente rekenskap te gee van jou persoonlike geloof in God Drie-enig, om daarna as volwaardige belydende lidmaat van ’n plaaslike gereformeerde kerk (gemeente) toegelaat te word.
Jy woon die verbondsonderrigklasse getrou by omdat jy wil leer of onderrig word aangaande God Drie-enig. Die Heidelbergse Kategismus, wat hier gebruik word om jou te onderrig, is ’n opsomming van Bybelse waarhede. Dieselfde Bybel wat ons leer om God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees lief te hê. Die Hebreeuse woord wat in die Bybel vir “kennis” gebruik word, het dikwels dieselfde betekenis as “liefhê”. Dit is ook nie vreemd nie, want dié twee woorde hoort mos bymekaar. Hoe sal ’n mens iemand kan liefhê wie jy glad nie ken nie? Maar andersom is dit ook waar: Die een wie jy liefhet, wíl jy ook beter leer ken.
Tussen Doop en Nagmaal: Verbondsonderrig aan die hand van die Heidelbergse Kategismus wil jou help om God Drie-enig beter te leer ken en Hom van harte lief te hê. Dit beteken dat die kennis wat jy opdoen nie net “boekekennis” moet bly nie, maar in jou hart geskryf moet staan. Dan sal jy in staat wees om jou hele lewe al hoe meer in liefde aan God toe te wy. Mag die onderrig in hierdie boek jou tot groot seën wees wanneer dit jou help om God Drie-enig beter te leer ken, soos Hy dit van ons vra.
Reviews
There are no reviews yet.